Sommige Vrydae aande het ek by hul gaan oorslaap net om vroeg die Saterdag oggend saam met Oupa by die busstop te wag. Die groot wit bus met sy oranje en blou strepe het gestop en ons het ingeklim, oppad middestad toe. Heelbo in die bus het ons Volksies getel tot dit vir my, toe omtrent 7 of 8, ontelbaar geraak het. In die middestad het ons uitgeklim en middagete gaan eet by 'n kafeteria - vleis, reis en aartappels, op die regte boere manier gemaak.
My ouma en oupa het my op laerskool geleer dat ons "mag" oop oe bid as ons gaan stap in die aand en na die sterre kyk. Wat 'n openbaring vir 'n huppelende sonskyn kind?
Min mense het my as kind verstaan, maar oupa het dieper gekyk, hy het iets raakgesien wat min al kon...
Ek weet ouma en oupa sou so lief wees vir my man. Iemand net soos oupa, met liefde in sy oe, iemand wat verder kyk en my raaksien vir wie ek is, oupa se sonskyn kindjie. My man het besluit ek is huppelkind... Op my troudag wens ek ouma en oupa kon deel he aan ons twee se liefde vir mekaar. Maar ek weet, ek weet hier diep binne in my dat hulle elke oomblik waargeneem het. Oupa het met sy liefde in sy oe glimlaggend vir ons geknipoog.
Julle sal vir altyd in my voortleef, in my geloofsoortuigings, my drome en vir altyd in my pragtige herhinneringe...
Al is ek eendag self in die Herfs van my lewe, sal ek altyd oupa se sonskyn kindjie bly...
A grandfather is someone with silver in his hair and gold in his heart. ~Author Unknown
